Hoe Volwasse is Jy? (deel 1)

Het jy geweet dat stilstuipe ‘n kenmerk van emosionele onvolwassenheid is?

Volwasse silent_treatmentWanneer ‘n volwassene op so ‘n manier optree dat sy gedrag diè van ‘n kind weerspieël, word dit as kinderagtig bestempel.

Een so ‘n voorbeeld van kinderagtige gedrag (wat dikwels nie as sulks vertolk word nie), is stilstuipe.

Elke week sien ek Christene wat ly as gevolg van ‘n hele klomp emosionele probleme: angs, eensaamheid, rou oor gebroke verhoudings, afkeur, onbevoegdheid, woede, ens.  Dikwels sukkel hulle jare lank hiermee.

Ontwikkelingstake

Daar is Bybelse oplossings vir hierdie stryd en hierdie oplossings lê in jou begrip van basiese ontwikkelingstake – take wat jy dalk nie voltooi het terwyl jy opgegroei het nie en take wat nie net verandering bring nie, maar ook genesing.  Hierdie ontwikkelingstake behels die opgroei in die beeld van die Een van jou gemaak het.

God kan vier goed doen wat ons, Sy kinders, mee sukkel:

  1. Om op intieme vlak met ander kontak te maak (te “bond” of te “attach”) en kontak te behou
  2. Om ons van ander te onderskei (om bewus te wees van wat die grense tussen my en ander is)
  3. Om kwessies van die goeie en die slegte uit te sorteer
  4. Om as ‘n volwassene beheer te neem

Sonder die vermoë om hierdie basiese ontwikkelingstake te vervul, kan ons letterlik vir jare lank vassteek en kan groei en verandering buite ons bereik bly.  En so kan stilstuipe maklik as ‘n normale reaksie beskou en as wapen gebruik word.

Die eerste ontwikkelingstaak

Ek gaan in hierdie artikel slegs aandag gee aan die eerste ontwikkelingstaak, naamlik die vermoë om op intieme vlak met ander kontak te maak en kontak te behou.

Om kontak te maak en te behou

  • Kontak (”bonding”) is die vermoë om ‘n emosionele band (“attachment”) met ander te vestig.
  • Dit is die vermoë om op die mees intieme vlak met ander in ‘n verhouding te tree.
  • Wanneer twee mense in kontak is met mekaar, dan deel hulle in mekaar se diepste gedagtes, drome en gevoelens, sonder die vrees dat een die ander gaan verwerp.

Sonder ‘n soliede, intieme kontak met God en ander mense, sal die mens vasgevang bly in ‘n menigdom van emosionele probleme.  Geen mens kan floreer sonder om met God en ander in kontak te wees nie.

‘n Basiese behoefte

Waarom is ons behoefte aan kontak so sterk en waarom is ons onvermoë om met ander in kontak te bly so rampspoedig vir ons welstand?

Voor sonde in die wêreld gekom het

God is ‘n verhoudingswese en Hy het ‘n verhoudingsheelal geskep.  Om in verhoudings te staan, is die grondslag van elke lewende wese.  Alles wat lewe, staan in ‘n verhouding met iets/iemand anders.

Adam en Eva het ‘n ononderbroke, intieme verhouding met God en mekaar gehad.  Hulle het in volmaakte kontak met God en mekaar gestaan.

Na sonde in die wêreld gekom het

Toe kom hulle in opstand teen God en word hierdie volmaakte verhouding tussen God en mekaar verbreek.  Nou leef die mens in ‘n toestand van isolasie en beleef hulle elke oomblik die pyn van hierdie isolasie.  In die plek van volmaakte liefde het isolasie, vrees en haat gekom.

Die boodskap van die evangelie

Dit is waarom die boodskap van die evangelie een is van die herstel van gebroke verhoudings – om weer intieme kontak tussen mens en God, en mens en medemens te bewerkstellig.

Hoe werk dit vandag vanuit ‘n ontwikkelingsperspektief?

Bonding1Wanneer ‘n babatjie gebore word, is hy in skok en emosionele isolasie.  Wanneer die moeder egter die kind in haar arms neem, vasdruk en koester, begin die kind onmiddellik ontspan en ‘n proses van transformasie en groei begin.  Oor tyd internaliseer die kind sy ouers se sorg en beleef hy al meer ‘n gevoel van intieme kontak en innerlike sekuriteit.  Soos hierdie intieme kontak al sterker word, beleef die kind homself later as geliefd en veilig, selfs in die afwesigheid van ‘n geliefde.

Studies bewys dat babatjies kan siek word en doodgaan, of hul groei kan vertraag word as gevolg van ‘n gebrek aan fisiese en emosionele kontak.

Wanneer ‘n kind gedurende sy eerste jaar voldoende en intieme kontak met sy ouers internaliseer, begin hy vanaf sy tweede jaar leer om meer onafhanklik te wees.  Dit maak nie die kontak minder belangrik nie.  ‘n Kind moet veilig en geliefd voel om te wil eksperimenteer met sy onafhanklikheid.  Binne die veiligheid van ‘n intieme verhouding leer die kind om tussen goed en kwaad te onderskei en die toekoms aan te pak.

Nou wat het dit met stilstuipe te doen?

Volwasse children-stipstuipeStilstuipe is wanneer jy die ander persoon ignoreer deur doelbewus die intieme kontak te verbreek.  Hierdie verbreking van kontak is egter net ‘n uiterlike ignorering.  Innerlik is jy feitlik die hele tyd besig om aan die ander persoon te dink.

In hierdie emosionele woestyn kan geen groei plaasvind nie.  Sulke gedrag kan dalk tot ‘n mate by kinders verdra word, maar as ‘n volwassene so optree, hoe volwasse is so ‘n persoon dan nou eintlik?

Die eerste kenmerk van volwassenheid

Dit bring ons by die eerste kenmerk van volwassenheid.  ‘n Volwasse persoon is in staat om op intieme vlak kontak met ander te maak en kontak te behou.  Wanneer dit goed gaan tussen twee mense, dan is dit maklik om kontak te maak en te behou.  Om kontak te behou terwyl die vonke spat, is egter nie so maklik nie.   En dis dan ook die uitdaging: in ‘n konflik situasie kan ons doelbewus besluit om nie kontak te verbreek nie.  Dis die eerste toets vir volwassenheid.

Slaag jy die eerste toets?  Maak jy werklik op intieme en emosionele vlak kontak met ander en behou jy dan hierdie kontak tydens konflik?

Vraelys

Om vir jou ‘n idee te gee hoe suksesvol jy hierdie ontwikkelingstaak (om met ander intieme kontak te maak) bemeester het, beantwoord die volgende vrae:

JA SOMS NEE
1.           Ek vestig ‘n emosionele band met ander mense.  √ O  X
2.           Ek kan met ander kontak maak op die diepste emosionele vlak.  √ O  X
3.           Ek deel my diepste gevoelens met min vrees vir verwerping.  √ O  X
4.           Ek het werklike intieme kontak met ander.  √ O  X
5.           Ek voel verwyderd van ander mense.  X O  √
6.           Ek vind dit moeilik om ander se liefde vir my te voel.  X O  √
7.           Ek is bang vir intimiteit.  X O  √
8.           Ek kan myself kwesbaar vir ander te maak.  √ O  X
9.           Ek vind dit moeilik om my eie behoefte aan liefde te beleef.  X O  √

Hoe werk die vraelys?

  • Antwoord eers JA, SOMS of NEE
  • Kyk dan of daar ‘n , O of X in die blokkie verskyn.
  • As daar ‘n X  in die blokkie is, dui dit op ‘n definitiewe groei-area wat nog bemeester moet word.
  • As daar ‘n O in die blokkie is, dui dit op ‘n groei-area wat al in ‘n mate bemeester is. Hou aan om nogsteeds hieraan te werk.
  • As daar ‘n  in die blokkie is, het jy moontlik hierdie ontwikkelingstaak suksesvol bemeester.  Hou aan om dit doelbewus te bestuur en uit te bou.

————————————————

Met die skryf van hierdie nuusbrief, het ek van die volgende bronne gebruik gemaak:

  • Cloud, H.  1996.  Changes that heal.  How to understand your past to ensure a healthier future.  Grand Rapids, MI: Zondervan.
  • Cloud, H; Townsend, J; Carder, D & Henslin, E.  2011.  Unlocking your family patterns.  Chigaco, IL: Moody Publishers.
  • Gilbert, R.M.  2004.  The eight concepts of Bowen theory.  Falls Church, VA: Leading Systems Press.

————————————————–

Volgende keer bespreek ek die tweede kenmerk van ‘n volwasse persoon: die vermoë om jouself apart van ander te beleef.  Hierdie gevoel van onafhanklikheid van ander vorm die grondslag van jou persoonlike identiteit: wie jy is en nie is nie. Die onvermoë om hierdie ontwikkelingstaak suksesvol te bemeester, is een van die hoofoorsake van gebroke verhoudings.

Bertie Hanekom

Bertie-1

Leave a Reply